Tuesday, 15 March 2016

Ons as sponsies vir kennis.

Die klas voor jou het 30 leerders en dan het jy nog 4 ander klasse ook met 30 leerders in. Dit is baie lewens wat jy as onderwyser aanraak, baie leerders wat sal terugdink aan hul skoolloopbaan en jou sal onthou. Leerders wie elk hul eie storie, belangstellings en invloede het. Hulle is die toekoms van ons land en die volgende baanbrekers. Elk met soveel potensiaal wat ontgin moet word. Die leerder voor jou is ‘n spons. ‘n Spons wat die inligting wil opslurp van jou vakgebied en jou menswees. As onderwyser moet ons die leerders inspireer in die vakgebeid en in allerdaagse menswees. Ons is bevoorreg om ander se lewens te verreik, maar verreik daardie 4 klasse se leerders ons lewens nie meer nie.

Met ‘n interaktiewe klas kan onderwysers baie by leerders leer. Hulle leer hoe om die leerders te hanteer, hoe hulle koppe werk en ook wat hul invloede is. Leerders dink soveel anderster oor dinge as ons en hul uitkykpunt en ervaringe kan ons soveel by leer. Hulle kyk met nuwe oë na ons vakgebiede en ons moet hulle toelaat om ons ook so te laat kyk. Om ‘n leerder ‘n stem te gee in jou klaskamer kan soveel positiewe invloede hê op jou en die klas se lewens en kennis oor die vak. So sal die leerders ook met meer selfvertroue oor die vakgebeid kan gesels, want waar anders as in die “safe space” van hul klaskamer kan hul gesels en leer van jou vakgebied. Die liefde wat ons het vir ons vakke moet die leerders sien en ook wil kweek.
    

Daar is gesê dat die leerders sponse is vir ons kennis, maar ons sponsies is self nooit te vol om by hulle op te slurp nie. Ons moet toeganklik vir ander wees en toelaat dat hulle ons lewens laat verreik. 

Wednesday, 9 March 2016

Afstandonderwys die moeite werd?

Na meer as ‘n maand in die NOS-program, na vier weke van Digitale Pedagogie… en vier blogs later, sit ons steeds met die vraagstuk of tegnologie ‘n plek het in die klaskamer en hoe dit die leerervaring sal beïnvloed. Tegnologie het al so die klaskamer ingedring, dat ‘n klaskamer selfs opsioneel is…
Om te redeneer of afstandonderwys suksesvol kan wees of nie, sal die voordele en nadele opgeweeg moet word. Die voordele is dat hierdie manier van onderrig meer toeganklik is vir mense regoor die land, solank die persone toegang tot die internet het. Dit lei tot meer onderwysgeleenthede. Hierdie manier van onderrig is ook aansienlik goedkoper teenoor klaskameronderrig, aangesien daar nie begroot word vir infrastruktuur, onderwysers en hulpbronne nie. Al hierdie bogenoemde benodighede kan via die internet verskaf word met afstandonderwys. ‘n Voordeel is ook dat elk op hul eie spoed sal kan werk. Jy word dus nie gejaag deur ander nie, jy kan jou werk behandel wanneer dit jou pas.
Teenoor die voordele is die nadele ook sterk. Die nadele sluit in; geen persoonlike kontak met die leerders en onderwysers nie. Hierdie nadeel is vir my baie belangrik, aangesien ek al in vorige blogs uitgewys het hoe belangrik hierdie verhouding is. Dit is belangrik vir die leerder se belangstelling in die vakgebied om ook ‘n band met die onderwys te hê. Met afstandonderwys is daar geen gesprekvoering of verbale kommunikasie wat kan plaasvind nie, dus kan leerders nie redeneer oor onderwerpe nie. Hulle kan dan ook nie hul persoonlike verhoudings verbeter nie, want om ‘n gesprek op ‘n skerm te voer is anders as ‘n gesprek in persoon. En dit kan problematies wees vir persone sonder toegang tot internet aangesien alle kommunikasie via die internet plaasvind.

Afstandonderwys kan soveel meer deure vir ‘n groter groep mense oopmaak en dit is hoe die onderwys met die hulp van tegnologie so voortstrewend is , maar om persoonlike kontak prys te gee is baie moeilik. En dit is waar ek moeilik aanvaar dat afstandonderwys wel meer suksesvol as klaskameronderwys is. 

Wednesday, 2 March 2016

Die groot T...


 Die vraagstuk van die gebruik van tegnologie in die klaskamer sal nog vir lank ou en nuwe onderwysers ontstel asook hul lewens vergemaklik. Maar vir elk sal die gevoel verskil. 

Ons word al vir drie weke bekendgestel aan artikels wat die positiewe en negatiewe aspekte van tegnologie uitlig en die invloed wat dit het op die klaskamer. Maar na die weke se artikels is my siening steeds dieselfde: Tegnologie in die klaskamer is nodig vir die ontwikkeling van die leerder, asook 'n effektiewe manier om lesse aan te bied en selfs as kontrole te dien. Die gevaar is dat onderwysers neig om die Tegnologie te verruil vir persoonlike interaksie met die leerders. Hul moet net soveel van ons leer as van die rekenaarskerm.

Na aanleiding van Provenzano se artikel is daar metodes wat ek sal gebruik en ander wat ek voel nie aangewend sal word nie. Programme soos Remind en Instagram, sou ek byvoorbeeld nie wil gebruik nie. Die redes is dat ek voel Remind die leerders mag "spoonfeed" en dat dit nie die onerwyser se werk is om hul te herinner aan werk nie. Instagram voel ek ook is te 'n persoonlike platform om te gebruik. Liewer dat hul die foto's klas toe bring en 'n gesprek kan he daaroor eerder as 'n # of drie. 

Met Twitter en Blogging sal die leerders 'n meer kreatiewe uitlaatklep hê. Nadat ek self begin blog het, al is dit geforseer, geniet ek die anderse manier van kommunikasie en die idee dat jou gedagtes die wêreld ingaan. Dit is 'n ervaring wat ek vir my klas wil gee. Dalk elke week 'n tweet en blog van die week hê wat hulle sal aanmoedig en ook gesprekke uitlok. Dit sal ook van leerders verwag word om van die klas te tweet en bymekaar ook te leer oor wat die klas vir elk beteken het. Die blogs kan gebruik word as kreatiewe skryfwerk platform waar hul makliker media kan aanlas. 

Ons leerders moet nie bang wees vir Tegnologie nie, maar dit liewer tot hul voordeel gebruik en dit is die tipe era waarin ons al meer beweeg.