Tuesday, 15 March 2016

Ons as sponsies vir kennis.

Die klas voor jou het 30 leerders en dan het jy nog 4 ander klasse ook met 30 leerders in. Dit is baie lewens wat jy as onderwyser aanraak, baie leerders wat sal terugdink aan hul skoolloopbaan en jou sal onthou. Leerders wie elk hul eie storie, belangstellings en invloede het. Hulle is die toekoms van ons land en die volgende baanbrekers. Elk met soveel potensiaal wat ontgin moet word. Die leerder voor jou is ‘n spons. ‘n Spons wat die inligting wil opslurp van jou vakgebied en jou menswees. As onderwyser moet ons die leerders inspireer in die vakgebeid en in allerdaagse menswees. Ons is bevoorreg om ander se lewens te verreik, maar verreik daardie 4 klasse se leerders ons lewens nie meer nie.

Met ‘n interaktiewe klas kan onderwysers baie by leerders leer. Hulle leer hoe om die leerders te hanteer, hoe hulle koppe werk en ook wat hul invloede is. Leerders dink soveel anderster oor dinge as ons en hul uitkykpunt en ervaringe kan ons soveel by leer. Hulle kyk met nuwe oë na ons vakgebiede en ons moet hulle toelaat om ons ook so te laat kyk. Om ‘n leerder ‘n stem te gee in jou klaskamer kan soveel positiewe invloede hê op jou en die klas se lewens en kennis oor die vak. So sal die leerders ook met meer selfvertroue oor die vakgebeid kan gesels, want waar anders as in die “safe space” van hul klaskamer kan hul gesels en leer van jou vakgebied. Die liefde wat ons het vir ons vakke moet die leerders sien en ook wil kweek.
    

Daar is gesê dat die leerders sponse is vir ons kennis, maar ons sponsies is self nooit te vol om by hulle op te slurp nie. Ons moet toeganklik vir ander wees en toelaat dat hulle ons lewens laat verreik. 

Wednesday, 9 March 2016

Afstandonderwys die moeite werd?

Na meer as ‘n maand in die NOS-program, na vier weke van Digitale Pedagogie… en vier blogs later, sit ons steeds met die vraagstuk of tegnologie ‘n plek het in die klaskamer en hoe dit die leerervaring sal beïnvloed. Tegnologie het al so die klaskamer ingedring, dat ‘n klaskamer selfs opsioneel is…
Om te redeneer of afstandonderwys suksesvol kan wees of nie, sal die voordele en nadele opgeweeg moet word. Die voordele is dat hierdie manier van onderrig meer toeganklik is vir mense regoor die land, solank die persone toegang tot die internet het. Dit lei tot meer onderwysgeleenthede. Hierdie manier van onderrig is ook aansienlik goedkoper teenoor klaskameronderrig, aangesien daar nie begroot word vir infrastruktuur, onderwysers en hulpbronne nie. Al hierdie bogenoemde benodighede kan via die internet verskaf word met afstandonderwys. ‘n Voordeel is ook dat elk op hul eie spoed sal kan werk. Jy word dus nie gejaag deur ander nie, jy kan jou werk behandel wanneer dit jou pas.
Teenoor die voordele is die nadele ook sterk. Die nadele sluit in; geen persoonlike kontak met die leerders en onderwysers nie. Hierdie nadeel is vir my baie belangrik, aangesien ek al in vorige blogs uitgewys het hoe belangrik hierdie verhouding is. Dit is belangrik vir die leerder se belangstelling in die vakgebied om ook ‘n band met die onderwys te hê. Met afstandonderwys is daar geen gesprekvoering of verbale kommunikasie wat kan plaasvind nie, dus kan leerders nie redeneer oor onderwerpe nie. Hulle kan dan ook nie hul persoonlike verhoudings verbeter nie, want om ‘n gesprek op ‘n skerm te voer is anders as ‘n gesprek in persoon. En dit kan problematies wees vir persone sonder toegang tot internet aangesien alle kommunikasie via die internet plaasvind.

Afstandonderwys kan soveel meer deure vir ‘n groter groep mense oopmaak en dit is hoe die onderwys met die hulp van tegnologie so voortstrewend is , maar om persoonlike kontak prys te gee is baie moeilik. En dit is waar ek moeilik aanvaar dat afstandonderwys wel meer suksesvol as klaskameronderwys is. 

Wednesday, 2 March 2016

Die groot T...


 Die vraagstuk van die gebruik van tegnologie in die klaskamer sal nog vir lank ou en nuwe onderwysers ontstel asook hul lewens vergemaklik. Maar vir elk sal die gevoel verskil. 

Ons word al vir drie weke bekendgestel aan artikels wat die positiewe en negatiewe aspekte van tegnologie uitlig en die invloed wat dit het op die klaskamer. Maar na die weke se artikels is my siening steeds dieselfde: Tegnologie in die klaskamer is nodig vir die ontwikkeling van die leerder, asook 'n effektiewe manier om lesse aan te bied en selfs as kontrole te dien. Die gevaar is dat onderwysers neig om die Tegnologie te verruil vir persoonlike interaksie met die leerders. Hul moet net soveel van ons leer as van die rekenaarskerm.

Na aanleiding van Provenzano se artikel is daar metodes wat ek sal gebruik en ander wat ek voel nie aangewend sal word nie. Programme soos Remind en Instagram, sou ek byvoorbeeld nie wil gebruik nie. Die redes is dat ek voel Remind die leerders mag "spoonfeed" en dat dit nie die onerwyser se werk is om hul te herinner aan werk nie. Instagram voel ek ook is te 'n persoonlike platform om te gebruik. Liewer dat hul die foto's klas toe bring en 'n gesprek kan he daaroor eerder as 'n # of drie. 

Met Twitter en Blogging sal die leerders 'n meer kreatiewe uitlaatklep hê. Nadat ek self begin blog het, al is dit geforseer, geniet ek die anderse manier van kommunikasie en die idee dat jou gedagtes die wêreld ingaan. Dit is 'n ervaring wat ek vir my klas wil gee. Dalk elke week 'n tweet en blog van die week hê wat hulle sal aanmoedig en ook gesprekke uitlok. Dit sal ook van leerders verwag word om van die klas te tweet en bymekaar ook te leer oor wat die klas vir elk beteken het. Die blogs kan gebruik word as kreatiewe skryfwerk platform waar hul makliker media kan aanlas. 

Ons leerders moet nie bang wees vir Tegnologie nie, maar dit liewer tot hul voordeel gebruik en dit is die tipe era waarin ons al meer beweeg. 

Wednesday, 24 February 2016

Waarna ons as onderwysers moet steef.

In die afeglope week het ek die artikel van Morris heeltyd in my agterkop gehad. Soos ek klasse bywoon, veral Drama, het ek meer en meer besef hoe belangrik die rol van 'n onderwyser is vir 'n leerder se akademiese en emosionele welstand. Ons kweek nie net respek vir vakgebiede nie, maar is ook 'n mentor vir die leerders op 'n emosionele vlak. 'n Onderwyser kan hierdie verantwoordelikhede nie as vanselfsprekend sien nie. Dit vat toewyding om die klas se persoonlikhede en agtergronde te ken om die werk op elkeen se vlak te kan aanbied en so 'n belangstelling te kweek. As die klas jou belangstelling sien in hul welstand sal hul meer toegewy tot die vakgebied wees.

Hoekom my Drama-klas my veral aan die artikel laat dink het, was dat die dosent eers 10 minute gevat het om te hoor hoe dit met ons gaan en of ons nog "cope". Hy bied ondersteuning vir ons as sy toekomstige kollegas. Nadat ons sy klasse bygewoon het en ook kon sien hoe hy belangstelling in die leerders se lewens toon kon ek sien hoekom hy 'n suksesvolle onderwyser is. Ek het ook gesien dat jy nie persoonlik moet raak nie, maar eerder hul agtergronde te verstaan en hul persoonlikhede en vandaar af gebruik jy dit as basis om jou vakgebied aan hul oor te dra.

Die artikel noem dat as onderwysers moet ons nie leerders die objek van die leerproses maak nie, maar hul as mense sien en ook weet dat ons net so baie by hulle kan leer. Onderwysers is geneig om die menslikheid uit klasgee te haal en gevolglik papegaai leer die leerders die werk omdat hulle nie 'n liefde en respek vir die vakgebied het nie, Dis waar wat Morris skryf in sy artikel dat onderwysers nie moet werk tot 'n slaagsyfer nie, maar eerder of die leerders slaag in die lewe. Want net so is jy 'n sukses as hul onderwyser en mentor.

As jy daardie verstandhouding met die leerders het en suksesvol die vakgebied aan hul blootstel, kan jy kritiese gesprekke ontlok. Hierdie kritiese gesprekke moet poog dat kinders verder as net die klaskamer gaan dink en werklik, soos jy deeg sal knie, sal knie aan die gesprekke en hul eie opinies gaan vorm. En dit is wat ons as onderwyser moet na streef, is leerders met opinies! Leerders wat iets kan redeneer en hul standpunte neem in jou vakgebied en so ook in die lewe.

Ons as onderwysers is in die posisie om die sovel vir kinders te beteken en werklik 'n verskil maak en nog beter in 'n vakgebied waarvoor ons so lief voor is.


Wednesday, 17 February 2016

Die klas wat voor jou sit...

Na die eerste paar weke se klomp trappe opstap na groot klasse met baie mense in, begin dit soos 'n tweede huis te voel. Die eerste dag was ek oorweldig met die diversiteit in een klas. (My Voorgraads van 50 Dramastudente het my nie juis voorberei hiervoor nie.) Maar met tyd het die vreemde gesigte vir my 'n gerustelende blik geword of verwarde glimlag. Ons almal is saam in hierdie nuwe ervaring en saam sit ons met die grrot taak om die Toekoms op te voed.

Met die aanvang van Digitale Pedogogie het ek met gemengde gevoelens in die lokaal ingestap. Opgewonde vir die nuwe dinge wat ons gaan van hoor en 'n dosnet met soveel passie vir sy vakgebied, maar ook skrikkerig vir die Tegnologie gekoppel. Om "'n blog te skryf" of om iets te "tweet" was nog altyd 'n aktiwiteit wat ek gedink het nooit vir my beskore sou wees nie. Maar siedaar...hier lees jy my eerste blog! Die Tegnologie, en sosiale media op sy eie, is vir baie mense soos 'n woud in 'n sprokiesverhaal. 'n Onbekendheid wat jou lok, maar terselfde tyd is jy so versigtig en sku weg daarvan. Hoekom is ons so bang  vir dit wat ons lewens soveel makliker kan maak?

As die nuwe generasie van opvoeders moet Tegnologie ons hulpmiddel in klas wees. Die 30 leerders wat voor jou sit het al 'n selfoon in sy hand gehad voor die ouderdom van 5. Dus kan ons hul nie leer om Tegnologie en sosiale media te gebruik nie, want hul sal ons 'n ding of twee leer! Maar liewer dat dit ons help om hul betrokke te hou in klas en 'n sinvolle deelnemer te wees. Die onbekende aktiwiteit soos om 'n blog te skryf bevorder die deelname, jy kry terugvoering van die les, die leerders kan hulself kreatief uitbeeld en ook bietjie hulself uitdaag om so 'n onbekende meer bekend te laat voel.

As ek nou terug dink aan die aktiwiteit van die sticky notes... vul die verskillende kleure en groottes van die sticky notes en ons diverse klas van verskillende kleure en groottes mekaar goed aan. As opvoeders moet ons onthou die klas voor ons is diverse in alle maniere, maar dit is wat ons klas en ook ons lewens ophelder. Om vir elk 'n plekkie op die muur te kry waar elk hulself kan uit leef en ten volle kan groei. Hierdie kan nie deur Tegnologie bereik word nie... Tegnologie sal nooit die menslikheid van iets kan wegneem of vervang nie. Dit is iets wat altyd onthou moet word.